📖 Spreuke van Salomo 8
-
1
Roep die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie?
-
2
Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy,
-
3
aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop:
-
4
Ek roep na julle, manne, en my stem is tot die mensekinders.
-
5
Leer tog skranderheid verstaan, eenvoudiges, en dwase, leer verstandigheid verstaan.
-
6
Hoor, want ek sal voortreflike dinge spreek, en my lippe gaan oop vir wat reg is.
-
7
Want my verhemelte spreek waarheid, en goddeloosheid is vir my lippe 'n gruwel.
-
8
Al die woorde van my mond is reg, daarin is niks wat slinks of vals is nie,
-
9
hulle is almal duidelik vir die verstandige en reg vir die wat kennis gevind het.
-
10
Neem my tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud.
-
11
Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.
-
12
Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind kennis van regte oorleg.
-
13
Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.
-
14
Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne.
-
15
Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is;
-
16
deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.
-
17
Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.
-
18
Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid.
-
19
My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer.
-
20
Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg,
-
21
om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol.
-
22
Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af.
-
23
Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af.
-
24
Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie;
-
25
voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore;
-
26
toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie.
-
27
Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed;
-
28
toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het;
-
29
toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het--
-
30
toe was ek 'n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd,
-
31
en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.
-
32
Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar.
-
33
Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie.
-
34
Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou.
-
35
Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry 'n welbehae van die HERE.
-
36
Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.