📖 Spreuke van Salomo 7
-
1
My seun, onderhou my woorde en bewaar my gebooie by jou;
-
2
onderhou my gebooie, dan sal jy lewe, en my onderwysing soos jou oogappel;
-
3
bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart.
-
4
Sê aan die wysheid: Jy is my suster! en noem die verstand jou vertroueling,
-
5
sodat hulle jou kan bewaar vir die vreemde vrou, vir die ontugtige wat met haar woorde vlei.
-
6
Want ek het deur die venster van my huis, deur my tralievenster uitgekyk,
-
7
en ek het onder die eenvoudiges gesien, onder die jongmense 'n verstandelose jongman opgemerk,
-
8
wat op die straat verbygaan naby haar hoek en in die rigting van haar huis stap,
-
9
in die skemer, in die aand van die dag, in die middel van die nag en die donker.
-
10
En kyk, daar kom 'n vrou hom tegemoet, soos 'n hoer aangetrek en listig van hart--
-
11
sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie--
-
12
nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer.
-
13
En sy het hom gegryp en hom gesoen, met 'n onbeskaamde gesig vir hom gesê:
-
14
Ek moes dankoffers bring, vandag het ek my geloftes betaal;
-
15
daarom het ek uitgegaan om jou te ontmoet, om jou aangesig te soek, en ek het jou gekry.
-
16
Ek het my bed met dekens opgemaak, met bont spreie van Egiptiese linne;
-
17
ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel--
-
18
kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste.
-
19
Want die man is nie tuis nie, hy het ver weg op reis gegaan,
-
20
die geldbeurs het hy met hom saamgeneem, teen die dag van volmaan sal hy eers tuis kom.
-
21
Sy het hom verlei deur haar baie mooipraatjies, deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok.
-
22
Hy loop skielik agter haar aan soos 'n bees wat na die slagpaal gaan, en soos voetboeie wat dien tot tugtiging van die sot,
-
23
totdat die pyl sy lewer splits; soos 'n voël haastig na die vangnet vlieg--sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is.
-
24
Hoor dan nou na my, seuns, en luister na die woorde van my mond.
-
25
Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie.
-
26
Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is.
-
27
Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood.