📖 Spreuke van Salomo 6
-
1
My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir 'n vreemde jou handslag gegee het,
-
2
verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond,
-
3
doen dan dit, my seun, om jouself te red--want jy het in die hand van jou naaste geraak--gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste,
-
4
gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie;
-
5
red jou soos 'n gemsbok uit die hand, en soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger.
-
6
Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!
-
7
Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie,
-
8
maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.
-
9
Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?
-
10
Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus!
-
11
So kom dan jou armoede soos 'n rondloper en jou gebrek soos 'n gewapende man.
-
12
'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop,
-
13
wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee;
-
14
in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.
-
15
Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is.
-
16
Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:
-
17
trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
-
18
'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
-
19
een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.
-
20
Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
-
21
bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;
-
22
mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.
-
23
Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe,
-
24
om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong.
-
25
Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie;
-
26
want vir 'n hoer verval 'n mens tot 'n stuk brood, en 'n ander se vrou maak jag op 'n kosbare lewe.
-
27
Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?
-
28
Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?
-
29
So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie.
-
30
'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het;
-
31
en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.
-
32
Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets;
-
33
slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie;
-
34
want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;
-
35
hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.