📖 Spreuke van Salomo 5
-
1
My seun, luister na my wysheid, neig jou oor tot my insig,
-
2
dat jy volle oorleg kan behou en jou lippe kennis kan bewaar;
-
3
want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie,
-
4
maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos 'n swaard aan weerskante skerp.
-
5
Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe.
-
6
Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet.
-
7
Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie.
-
8
Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie,
-
9
sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie;
-
10
sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van 'n uitlander kom nie
-
11
en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is,
-
12
en moet sê: Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad,
-
13
en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie!
-
14
Amper was ek heeltemal in die ongeluk, in die vergadering en die gemeente.
-
15
Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put.
-
16
Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine?
-
17
Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie.
-
18
Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug--
-
19
die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.
-
20
Maar waarom sou jy, my seun, by 'n vreemde bedwelmd raak en die boesem van 'n ontugtige omhels?
-
21
Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange.
-
22
Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou.
-
23
Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.