📖 Spreuke van Salomo 4
-
1
Hoor, julle seuns, na die tug van die vader, en luister om insig te leer ken;
-
2
want ek gee aan julle goeie lering, verlaat my onderwysing nie.
-
3
Want toe ek 'n seun was by my vader, teer en 'n enigste voor my moeder,
-
4
het hy my geleer en vir my gesê: Laat jou hart my woorde vashou; onderhou my gebooie, dan sal jy lewe.
-
5
Verkry wysheid, verkry insig; vergeet nie en wyk nie af van die woorde van my mond nie:
-
6
verlaat dit nie, dan sal dit jou bewaar; kry dit lief, dan sal dit jou bewaak.
-
7
Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit.
-
8
Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels.
-
9
Dit sal 'n lieflike krans gee vir jou hoof, dit sal jou 'n sierlike kroon verskaf.
-
10
Hoor, my seun, en neem my woorde aan; dan sal die lewensjare vir jou vermeerder word.
-
11
In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree;
-
12
as jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie.
-
13
Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe.
-
14
Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie.
-
15
Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby;
-
16
want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot 'n val bring nie.
-
17
Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid.
-
18
Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe,
-
19
is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.
-
20
My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde,
-
21
laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart.
-
22
Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en 'n genesing vir hulle hele liggaam.
-
23
Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.
-
24
Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe.
-
25
Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou.
-
26
Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,
-
27
wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.