📖 Spreuke van Salomo 31
-
1
Die woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het:
-
2
Wat, my seun, ja wat, seun van my skoot, ja wat, seun van my geloftes, sal ek sê?
-
3
Gee jou krag nie aan vroue of jou omgang aan die wat konings uitroei nie.
-
4
Die konings, o Lémuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie;
-
5
anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges.
-
6
Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is.
-
7
Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie.
-
8
Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn.
-
9
Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige.
-
10
Alef. Wie sal 'n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.
-
11
Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.
-
12
Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.
-
13
Dalet. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande.
-
14
He. Sy is soos die skepe van 'n handelaar--van ver af bring sy haar brood in.
-
15
Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies.
-
16
Sajin. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy 'n wingerd.
-
17
Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig.
-
18
Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie.
-
19
Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas.
-
20
Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige.
-
21
Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof.
-
22
Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper.
-
23
Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit.
-
24
Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars.
-
25
Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.
-
26
Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong.
-
27
Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.
-
28
Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar:
-
29
Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.
-
30
Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.
-
31
Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poort.