📖 Spreuke van Salomo 29
-
1
'n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.
-
2
As die regverdiges talryk word, is die volk bly; maar as die goddelose heers, sug die volk.
-
3
'n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan, bring die goed deur.
-
4
'n Koning hou deur reg die land in stand, maar 'n man wat belastings afpers, verwoes dit.
-
5
'n Man wat sy naaste vlei, sprei 'n net uit voor sy voetstappe.
-
6
In die oortreding van 'n slegte mens is 'n strik, maar die regverdige sal jubel en bly wees.
-
7
Die regverdige ken die reg van die armes, maar die goddelose verkry geen kennis nie.
-
8
Manne wat spot, bring 'n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring.
-
9
Het 'n wyse man met 'n sot 'n regsaak, dan gaan die sot te kere en lag, sonder bedaring.
-
10
Manne van bloed haat die regskapene, en hulle soek die lewe van die opregtes.
-
11
'n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar 'n wyse bring dit eindelik tot bedaring.
-
12
'n Heerser wat luister na 'n leuenagtige woord, sy dienaars is almal goddeloos.
-
13
Die arme en die man wat verdruk, ontmoet mekaar, die HERE verlig altwee se oë.
-
14
'n Koning wat getrou aan die armes reg verskaf, sy troon sal vir altyd bevestig wees.
-
15
Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar 'n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.
-
16
As die goddelose vermeerder, vermeerder die oortreding; maar die regverdiges aanskou met welgevalle hulle ondergang.
-
17
Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.
-
18
As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy.
-
19
Met woorde laat 'n slaaf hom nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie.
-
20
Het jy 'n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir 'n dwaas is daar meer hoop as vir hom.
-
21
As 'n mens sy slaaf van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar.
-
22
'n Opvlieënde man verwek twis, en 'n driftige man is ryk aan oortreding.
-
23
Die trotsheid van 'n mens verneder hom, maar die nederige van gees sal eer verkry.
-
24
Hy wat saam met 'n dief deel, haat sy eie siel; hy hoor die beswering, maar openbaar niks nie.
-
25
Die vrees vir die mens span 'n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.
-
26
Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van 'n mens kom van die HERE.
-
27
'n Man van onreg is vir die regverdiges 'n gruwel, en vir die goddelose is die opregte van wandel 'n gruwel.