📖 Spreuke van Salomo 26
-
1
Soos sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by 'n dwaas nie.
-
2
Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is 'n vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie.
-
3
'n Sweep is vir die perd, 'n toom vir die esel en 'n roede vir die rug van die dwase.
-
4
Antwoord 'n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.
-
5
Antwoord 'n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.
-
6
Hy kap sy voete af, hy ly onreg, wat 'n boodskap stuur deur middel van 'n dwaas.
-
7
Soos die bene van 'n lamme slap afhang, so is 'n spreuk in die mond van die dwase.
-
8
Soos een wat 'n klip in 'n slinger vasbind, so is hy wat eer gee aan 'n dwaas.
-
9
Soos 'n doring wat in die hand van 'n dronkaard geraak het, so is 'n spreuk in die mond van die dwase.
-
10
Soos 'n skutter wat alles in gevaar bring, is hy wat 'n dwaas huur, sowel as hy wat verbygangers huur.
-
11
Soos 'n hond wat na sy uitbraaksel teruggaan, is 'n dwaas wat sy sotheid weer ophaal.
-
12
Het jy 'n man gesien wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir 'n dwaas as vir hom.
-
13
Die luiaard sê: Daar is 'n leeu op die pad, 'n leeu op die pleine.
-
14
'n Deur draai rond op sy skarniere, so die luiaard op sy bed.
-
15
Het die luiaard sy hand in die skottel gesteek, hy is te moeg om dit na sy mond terug te bring.
-
16
Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord.
-
17
Hy wat 'n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor 'n twis wat hom nie aangaan nie.
-
18
Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet,
-
19
so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel somaar.
-
20
Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis.
-
21
Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is 'n twisgierige man om 'n twis aan te hits.
-
22
Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste.
-
23
Silwerskuim waarmee 'n potskerf oorgetrek is--so is gloeiende lippe en 'n slegte hart.
-
24
Die hater veins met sy lippe, maar in sy binneste koester hy bedrog.
-
25
As hy sy stem lieflik maak, vertrou hom nie; want sewe gruwels is in sy hart.
-
26
Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering openbaar.
-
27
Wie 'n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat 'n klip rol, dit sal na hom terugkom.
-
28
'n Valse tong haat die wat hy verbrysel het, en 'n gladde mond bewerk ondergang.