📖 Spreuke van Salomo 23
-
1
Sit jy aan om saam met 'n heerser te eet, let dan net op wat vóór jou is,
-
2
en sit 'n mes op jou keel as jy 'n goeie eetlus het.
-
3
Moenie sy lekker ete begeer nie, want dit is bedrieglike spys.
-
4
Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid.
-
5
Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!
-
6
Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie, en begeer nie sy lekker ete nie.
-
7
Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.
-
8
Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou vriendelike woorde verspil.
-
9
Spreek nie voor die ore van 'n dwaas nie, want hy sal die verstandigheid van jou woorde verag.
-
10
Verlê die ou grenslyne nie, en kom nie op die landerye van die wese nie.
-
11
Want hulle Verlosser is sterk, Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
-
12
Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis.
-
13
Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.
-
14
Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.
-
15
My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug.
-
16
En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is.
-
17
Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die HERE.
-
18
Waarlik, daar is 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
-
19
Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.
-
20
Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.
-
21
Want 'n drinker en 'n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.
-
22
Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.
-
23
Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand.
-
24
Die vader van 'n regverdige juig baie; en as iemand 'n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom.
-
25
Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.
-
26
My seun, gee my jou hart, en laat jou oë 'n welgevalle hê in my weë.
-
27
Want 'n hoer is 'n diep kuil, en 'n ontugtige vrou is 'n nou put.
-
28
Sy lê ook en loer soos 'n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom.
-
29
By wie is "Ag!"; by wie is "Wee my!"; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?
-
30
By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.
-
31
Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:
-
32
op die end byt dit soos 'n slang en spuug gif uit soos 'n basilisk.
-
33
Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek;
-
34
en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.
-
35
Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!
-
36
Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek.