📖 Spreuke van Salomo 21
-
1
Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.
-
2
Elke weg van 'n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte.
-
3
Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers.
-
4
Hoogheid van oë en trotsheid van hart--die glans van die goddelose is sonde.
-
5
Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek.
-
6
Die verwerwing van skatte deur 'n valse tong is 'n verwaaide asem--dodelike valstrikke.
-
7
Die gewelddadigheid van die goddelose sleep hulle weg, want hulle weier om reg te doen.
-
8
Gekronkeld is die weg van 'n skuldige mens; maar die reine--sy handeling is reg.
-
9
Dit is beter om op die hoek van 'n dak te woon as by 'n twisgierige vrou en 'n gemeenskaplike huis.
-
10
Die siel van die goddelose begeer die kwaad; sy naaste vind in sy oë geen genade nie.
-
11
As 'n mens 'n spotter straf, word die eenvoudige bedagsaam; en as 'n mens 'n wyse onderrig, neem hy self kennis aan.
-
12
Die regverdige let op die huis van die goddelose; Hy stort die goddelose in die ongeluk.
-
13
Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie.
-
14
'n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en 'n geskenk in die skoot die heftige woede.
-
15
Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar 'n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid.
-
16
'n Mens wat afdwaal van die pad van verstand, sal in die vergadering van die skimme rus.
-
17
Wie van vrolikheid hou, is 'n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie.
-
18
Die goddelose is 'n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue.
-
19
Dit is beter om in 'n woeste land te woon as by 'n twisgierige vrou en ergernis.
-
20
'n Kosbare skat en olie is in die woning van die regverdige, maar 'n dwase mens bring dit deur.
-
21
Wie geregtigheid en weldadigheid najaag, sal die lewe, geregtigheid en eer vind.
-
22
Die wyse beklim die stad van die helde en gooi die vesting neer waar dit op vertrou.
-
23
Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede.
-
24
'n Vermetele, 'n trotsaard word 'n spotter genoem, een wat in oormaat van vermetelheid handel.
-
25
Die begeerte van die luiaard sal hom doodmaak, want sy hande weier om te werk;
-
26
die hele dag deur word daar dringend begeer, maar die regverdige gee en hou nie terug nie.
-
27
Die offer van die goddelose is 'n gruwel; hoeveel te meer as hulle dit met skandelike bedoeling bring.
-
28
'n Leuenagtige getuie kom om; maar 'n man wat goed toeluister, spreek vir altyd.
-
29
Die goddelose trek 'n onbeskaamde gesig, maar die opregte gee aan sy weë die regte rigting.
-
30
Daar is geen wysheid, en daar is geen verstand, en daar is geen raad teenoor die HERE nie.
-
31
Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.