📖 Spreuke van Salomo 20
-
1
Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.
-
2
Die dreiging van die koning is soos die gebrom van 'n jong leeu; wie hom vertoorn, verbeur sy lewe.
-
3
Dit is 'n eer vir 'n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los.
-
4
In die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie.
-
5
Die raad in die hart van 'n man mag diep waters wees, 'n man van verstand sal dit tog uitskep.
-
6
Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind 'n betroubare man?
-
7
Wie in sy regskapenheid wandel as 'n regverdige--gelukkig is sy kinders ná hom.
-
8
'n Koning wat op die regterstoel sit, wan met sy oë alles uit wat sleg is.
-
9
Wie kan sê: Ek het my hart suiwer gehou, ek is rein van my sonde?
-
10
Twee soorte gewig, twee soorte maat--hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel.
-
11
Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is.
-
12
'n Oor wat hoor, en 'n oog wat sien--die HERE het hulle altwee gemaak.
-
13
Moenie die slaap liefhê, sodat jy arm word nie; maak jou oë oop, dat jy jou met brood kan versadig.
-
14
Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom.
-
15
Daar is goud en 'n menigte korale, maar 'n kosbare sieraad is die lippe van kennis.
-
16
Neem sy kleed weg, want hy het vir 'n ander borg gestaan, en neem hom as pand vir die vreemdes.
-
17
Soet is vir 'n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies.
-
18
Planne kom deur beraadslaging tot stand; voer dan oorlog met goeie oorleg.
-
19
Wie met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.
-
20
Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood.
-
21
'n Besit wat by die begin haastig bymekaargeskraap is--die einde daarvan sal tog nie geseënd wees nie.
-
22
Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die HERE, dat Hy jou help.
-
23
Twee soorte gewig is vir die HERE 'n gruwel, en 'n valse weegskaal is nie goed nie.
-
24
Die voetstappe van 'n man hang van die HERE af: hoe sou 'n mens dan sy weg verstaan?
-
25
Dit is vir die mens 'n strik dat hy onbedagsaam sê: Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg.
-
26
'n Wyse koning wan die goddelose uit en laat die dorswiel oor hulle draai.
-
27
Die gees van die mens is 'n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste.
-
28
Liefde en trou behoed die koning, en deur liefde stut hy sy troon.
-
29
Die sieraad van die jongmanne is hulle krag, en die versiersel van grysaards is grys hare.
-
30
Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste.