📖 Spreuke van Salomo 18
-
1
Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.
-
2
Die dwaas het geen behae in verstandigheid nie, maar net daarin dat sy hart openbaar word.
-
3
As die goddelose kom, kom ook veragting; en saam met die skande, versmading.
-
4
Die woorde van 'n man se mond is diep waters, 'n stroom wat bruis, 'n fontein van wysheid.
-
5
Om vir die goddelose partydig te wees, om die regverdige in die gereg weg te stoot, is nie goed nie.
-
6
Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.
-
7
Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe 'n strik vir sy lewe.
-
8
Die woorde van die kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste.
-
9
Alreeds hy wat hom slap hou in sy werk, hy is 'n broer van 'n verwoester.
-
10
Die Naam van die HERE is 'n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.
-
11
Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos 'n steil muur in sy verbeelding.
-
12
Voor die verbreking is die mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan aan die eer vooraf.
-
13
Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit 'n sotheid en 'n skande wees.
-
14
Die gees van 'n man ondersteun hom in sy krankheid; maar 'n verslae gees--wie kan dit opbeur?
-
15
Die hart van die verstandige verwerf kennis, en die oor van wyse soek na kennis.
-
16
Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.
-
17
Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë.
-
18
Die lot laat die geskille ophou en maak sterkes uitmekaar.
-
19
'n Broer teen wie oortree is, is erger as 'n sterk stad; en geskille is soos die grendel van 'n paleis.
-
20
Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.
-
21
Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.
-
22
Wie 'n vrou gevind het, het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die HERE verkry.
-
23
Die arme spreek smekinge, maar die ryke antwoord harde dinge.
-
24
'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n vriend wat sterker aanhang as 'n broer.