📖 Spreuke van Salomo 17
-
1
Beter is 'n stuk droë brood en rus daarby as 'n huis vol offermaaltye met getwis.
-
2
'n Verstandige dienaar sal heers oor 'n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel.
-
3
Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.
-
4
Die kwaaddoener gee ag op 'n bedrieglike lip, 'n leuenaar luister na 'n tong wat onheil stig.
-
5
Hy wat die arme bespot, versmaad sy Maker; hy wat bly is oor 'n ongeluk, sal nie ongestraf bly nie.
-
6
Kindskinders is 'n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader 'n eer.
-
7
Aanmatigende taal pas nie by 'n dwaas nie, hoeveel minder leuentaal by 'n edele!
-
8
Kosbare edelgesteentes is die omkoopgeskenk in die oë van sy besitter; oral waar hy heengaan, sal hy slaag.
-
9
Wie 'n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat 'n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar.
-
10
'n Berisping gaan by 'n verstandige dieper in as om 'n dwaas honderd maal te slaan.
-
11
Die wederstrewige soek net onheil, maar 'n wrede boodskapper word teen hom uitgestuur.
-
12
Laat 'n beer wat van kleintjies beroof is, 'n mens ontmoet, maar nie 'n dwaas in sy sotheid nie.
-
13
Hy wat kwaad vir goed vergelde, die kwaad sal uit sy huis nie wyk nie.
-
14
Die begin van 'n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.
-
15
Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel.
-
16
Waarom tog is daar geld in die hand van 'n dwaas om wysheid te koop terwyl hy geen verstand het nie?
-
17
Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.
-
18
Dit is 'n verstandelose mens wat handslag gee, wat borg staan vir sy naaste.
-
19
Wie twis liefhet, het oortreding lief; hy wat sy deur hoog maak, soek verbreking.
-
20
Wie verkeerd van hart is, vind die goeie nie; en hy wat vals is met sy tong, val in die ongeluk.
-
21
Hy wat 'n dwaas verwek, vir hom sal dit 'n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie.
-
22
'n Vrolike hart bevorder die genesing, maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog.
-
23
Die goddelose neem 'n omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig.
-
24
Die verstandige hou die wysheid voor oë, maar die oë van die dwaas is by die einde van die aarde.
-
25
'n Dwase seun is 'n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het.
-
26
Is dit alreeds nie goed om die regverdige te beboet nie--om edeles te slaan is onbetaamlik.
-
27
Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is 'n man van verstand.
-
28
Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.