📖 Spreuke van Salomo 11
-
1
'n Valse weegskaal is vir die HERE 'n gruwel, maar in 'n volle gewig het Hy behae.
-
2
Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid.
-
3
Die regskapenheid van die opregtes is vir hulle 'n leier, maar die valsheid van die ontroues vernietig hulle.
-
4
Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood.
-
5
Die geregtigheid van die regskapene maak sy weg gelyk, maar die goddelose val deur sy goddeloosheid.
-
6
Die geregtigheid van die opregtes red hulle, maar deur hulle eie begeerlikheid word die ontroues gevang.
-
7
By die dood van 'n goddelose mens gaan sy hoop tot niet, en die verwagting van die roekelose het vergaan.
-
8
Word die regverdige uit die benoudheid gered, dan kom die goddelose in sy plek.
-
9
Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered.
-
10
Oor die voorspoed van die regverdiges jubel 'n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel.
-
11
Deur die seën van die opregtes kom 'n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek.
-
12
Die verstandelose verag sy naaste, maar 'n verstandige man bly stil.
-
13
Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek 'n saak.
-
14
As daar nie goeie oorleg is nie, val 'n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding.
-
15
Baie sleg word iemand behandel as hy vir 'n ander borg gestaan het; maar hy wat haat wie die handslag gee, is veilig.
-
16
'n Aanvallige vrou verkry eer, en die geweldenaars verkry rykdom.
-
17
'n Man wat 'n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel, maar 'n wreedaard pynig sy eie vlees.
-
18
Die goddelose behaal oneerlike wins, maar hy wat geregtigheid saai, 'n betroubare loon.
-
19
Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood.
-
20
Die wat verkeerd van hart is, is vir die HERE 'n gruwel; maar Hy het behae in die wat regskape van wandel is.
-
21
Sekerlik, die slegte bly nie ongestraf nie; maar die geslag van regverdiges raak vry.
-
22
'n Goue ring in 'n vark se snuit, so is 'n vrou wat mooi is maar sonder beleid.
-
23
Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is 'n strafgerig van toorn.
-
24
Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.
-
25
Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.
-
26
Hy wat koring terughou, hom vloek die mense; maar seëning kom op die hoof van hom wat koring verkoop.
-
27
Wie die goeie nastreef, soek wat welgevallig is; maar hy wat die kwaad soek, oor hom sal dit kom.
-
28
Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val; maar die regverdiges sal soos blare uitspruit.
-
29
Wie sy huis in beroering bring, sal wind erwe, en 'n dwaas word 'n slaaf van hom wat wys van hart is.
-
30
Die vrug van die regverdige is 'n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys.
-
31
As die regverdige op aarde vergelding ontvang, hoeveel te meer die goddelose en die sondaar!