📖 Spreuke van Salomo 1
-
1
Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel,
-
2
om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan,
-
3
om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid;
-
4
om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg;
-
5
laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry,
-
6
om 'n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels.
-
7
Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.
-
8
My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
-
9
want dit is 'n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals.
-
10
My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie;
-
11
as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak,
-
12
laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal;
-
13
allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit;
-
14
jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê--
-
15
my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad;
-
16
want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet;
-
17
want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls:
-
18
so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor.
-
19
So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe.
-
20
Die Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine,
-
21
op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde:
-
22
Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat?
-
23
Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak.
-
24
Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie,
-
25
en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie,
-
26
daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom;
-
27
as julle verskrikking kom soos 'n onweer, en julle ondergang soos 'n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval.
-
28
Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.
-
29
Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie,
-
30
van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het,
-
31
daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.
-
32
Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde;
-
33
maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.