📖 Psalms 98
-
1
'n Psalm. Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen; sy regterhand en sy heilige arm het Hom gehelp.
-
2
Die HERE het sy heil bekend gemaak, sy geregtigheid voor die oë van die nasies geopenbaar.
-
3
Hy het gedink aan sy goedertierenheid en sy trou aan die huis van Israel; al die eindes van die aarde het die heil van onse God gesien.
-
4
Juig voor die HERE, o ganse aarde, breek uit en psalmsing!
-
5
Psalmsing tot eer van die HERE met die siter, met die siter en die stem van gesang,
-
6
met trompette en basuingeklank; juig voor die aangesig van die Koning, die HERE!
-
7
Laat die see bruis en sy volheid, die wêreld en die wat daarin woon.
-
8
Laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel
-
9
voor die aangesig van die HERE; want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg.