📖 Psalms 97
-
1
Die HERE is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees!
-
2
Wolke en donkerheid is rondom Hom; geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.
-
3
'n Vuur gaan voor sy aangesig uit en steek sy teëstanders rondom aan die brand.
-
4
Sy bliksems verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe.
-
5
Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die HERE van die hele aarde.
-
6
Die hemele verkondig sy geregtigheid, en al die volke sien sy heerlikheid.
-
7
Beskaamd staan almal wat die beelde dien, wat hulle op afgode beroem; al die gode buig hulle voor Hom neer.
-
8
Sion hoor dit en is bly, en die dogters van Juda juig oor u oordele, o HERE!
-
9
Want U, HERE, is die Allerhoogste oor die hele aarde; U is hoog verhewe bo al die gode.
-
10
o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose.
-
11
Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart.
-
12
o Regverdiges, wees bly in die HERE, en loof sy heilige gedenknaam!