📖 Psalms 94
-
1
God van wraak, o HERE, God van wraak, verskyn in ligglans!
-
2
Verhef U, o regter van die aarde, vergeld die trotsaards hulle dade!
-
3
Hoe lank sal die goddelose, o HERE, hoe lank sal die goddelose jubel?
-
4
Hulle smaal, hulle praat onbeskaamd- al die werkers van ongeregtigheid verhef hulle.
-
5
o HERE, hulle verbrysel u volk, en hulle verdruk u erfdeel.
-
6
Hulle maak die weduwee en die vreemdeling dood en vermoor die wese
-
7
en sê: Die HERE sien dit nie, en die God van Jakob merk dit nie.
-
8
Let op, o onverstandiges onder die volk, en julle dwase, wanneer sal julle verstandig word?
-
9
Sou Hy wat die oor plant, nie hoor nie, of Hy wat die oog formeer, nie sien nie?
-
10
Sou Hy wat die nasies tugtig, nie straf nie- Hy wat die mens kennis leer?
-
11
Die HERE ken die gedagtes van die mense- dat hulle nietigheid is.
-
12
Welgeluksalig is die man, o HERE, wat U onderrig en wat U leer uit u wet,
-
13
om hom rus te gee van die dae van teëspoed, totdat die kuil vir die goddelose gegrawe word.
-
14
Want die HERE sal sy volk nie verwerp en sal sy erfdeel nie verlaat nie;
-
15
want die regspraak sal terugkeer tot geregtigheid, en al die opregtes van hart sal dit volg.
-
16
Wie sal vir my optree teen die kwaaddoeners? Wie sal my bystaan teen die werkers van ongeregtigheid?
-
17
As die HERE vir my nie 'n hulp was nie, dan het my siel gou in die stilte gewoon.
-
18
As ek dink: My voet wankel- dan ondersteun u goedertierenheid my, o HERE!
-
19
As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.
-
20
Het die regterstoel wat onheil stig, met U gemeenskap; wat moeite versin teen die insettinge in?
-
21
Hulle bestorm die lewe van die regverdige en veroordeel onskuldige bloed.
-
22
Maar die HERE is 'n rotsvesting vir my, en my God die rots van my toevlug.
-
23
En Hy laat hulle ongeregtigheid op hulle terugkeer en verdelg hulle in hul boosheid; die HERE onse God verdelg hulle.