📖 Psalms 9
-
1
Vir die musiekleier; op die wysie van: "Sterf vir die Seun". 'n Psalm van Dawid.
-
2
Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel.
-
3
In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste,
-
4
omdat my vyande agteruitwyk, struikel en omkom van voor u aangesig.
-
5
Want U het my reg en my regsaak behandel; U het gaan sit op die troon, o regverdige regter!
-
6
U het die heidene gedreig, die goddelose laat omkom, hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd.
-
7
Die vyande het omgekom- puinhope vir ewig; ook die stede wat U verwoes het; hulle gedagtenis, ja, dié het vergaan.
-
8
Maar die HERE sit vir ewig; Hy het sy troon reggesit vir die oordeel.
-
9
En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg.
-
10
So is die HERE dan 'n rotsvesting vir die verdrukte, 'n rotsvesting in tye van benoudheid.
-
11
En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!
-
12
Psalmsing tot eer van die HERE wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade.
-
13
Want Hy wat die bloed soek, dink aan hulle; Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie.
-
14
Wees my genadig, HERE, aanskou my ellende vanweë my haters, U wat my verhef uit die poorte van die dood;
-
15
sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.
-
16
Die heidene het gesink in die kuil wat hulle gemaak het; hulle voet is gevang in die net wat hulle gespan het.
-
17
Die HERE het Hom bekend gemaak; Hy het strafgerig geoefen; die goddelose is verstrik in die werk van sy hande. Higgajon. Sela.
-
18
Die goddelose sal teruggaan na die doderyk, al die heidene wat God vergeet.
-
19
Want die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die verwagting van die ellendiges nie vir ewig verlore gaan nie.
-
20
Staan op, HERE, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word!
-
21
o HERE jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela.