📖 Psalms 89
-
1
'n Onderwysing van Etan, die Esrahiet.
-
2
Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag.
-
3
Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele- daar bevestig U u trou.
-
4
Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, met 'n eed aan Dawid, my kneg, belowe:
-
5
Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.
-
6
En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges.
-
7
Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge,
-
8
'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?
-
9
o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U!
-
10
U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring.
-
11
U het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi.
-
12
Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid- U het dit gegrond.
-
13
Die noorde en die suide- U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam.
-
14
U het 'n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe.
-
15
Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit.
-
16
Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig.
-
17
In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef.
-
18
Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef.
-
19
Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel.
-
20
Toe het U in 'n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan 'n held, 'n uitverkorene uit die volk verhef.
-
21
Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf,
-
22
met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk.
-
23
Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie;
-
24
maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan.
-
25
En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word.
-
26
En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere.
-
27
Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil!
-
28
Ja, Ék sal hom 'n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.
-
29
Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas.
-
30
En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel.
-
31
As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie;
-
32
as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie,
-
33
dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid.
-
34
Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie.
-
35
Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.
-
36
Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie!
-
37
Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My.
-
38
Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela.
-
39
Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde.
-
40
U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond.
-
41
U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings 'n puinhoop gemaak.
-
42
Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy 'n smaad geword.
-
43
U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak.
-
44
Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie.
-
45
U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp.
-
46
U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela.
-
47
Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos 'n vuur?
-
48
Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!
-
49
Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela.
-
50
Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met 'n eed beloof het in u trou?
-
51
Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke,
-
52
waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad.
-
53
Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.