📖 Psalms 85
-
1
Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. 'n Psalm.
-
2
U het, o HERE, 'n welbehae gehad in u land; die lot van Jakob het U verander.
-
3
U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela.
-
4
U het al u grimmigheid teruggetrek, U het U van die gloed van u toorn afgewend.
-
5
Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons!
-
6
Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag?
-
7
Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?
-
8
Laat ons u goedertierenheid sien, o HERE, en gee ons u heil!
-
9
Ek wil hoor wat God die HERE spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!
-
10
Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon.
-
11
Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.
-
12
Trou spruit uit die aarde en geregtigheid kyk uit die hemel neer.
-
13
Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings.
-
14
Geregtigheid gaan voor Hom uit, en dit let op die weg van sy voetstappe.