📖 Psalms 80
-
1
Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies". 'n Getuienis. Van Asaf. 'n Psalm.
-
2
o Herder van Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei, wat bo-oor die gérubs troon, verskyn in ligglans!
-
3
Wek u mag op voor Efraim en Benjamin en Manasse, en kom ons te hulp!
-
4
o God, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
-
5
o HERE, God van die leërskare, hoe lank nog rook u toorn by die gebed van u volk?
-
6
U het hulle tranebrood laat eet, hulle oorvloedig trane laat drink.
-
7
U het ons 'n voorwerp van stryd gemaak vir ons bure, en ons vyande drywe die spot.
-
8
o God van die leërskare, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
-
9
'n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant.
-
10
U het voor hom plek gemaak, en hy het wortels geskiet en die land vervul.
-
11
Die berge was oordek met sy skaduwee, en met sy ranke die seders van God.
-
12
Hy het sy ranke uitgebrei tot by die see en sy lote na die Rivier toe.
-
13
Waarom het U sy mure stukkend gebreek, sodat almal wat met die pad verbygaan, hom kaalpluk?
-
14
Die wildevark uit die bos eet hom op, en wat roer op die veld, wei hom af.
-
15
o God van die leërskare, kom tog terug; aanskou uit die hemel en kyk, en gee ag op hierdie wingerdstok;
-
16
en wees 'n beskerming vir wat u regterhand geplant het, en oor die seun wat U vir Uself grootgemaak het.
-
17
Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap; vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om.
-
18
Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun wat U vir Uself grootgemaak het.
-
19
Dan sal ons nie van U afwyk nie; hou ons in die lewe, dan sal ons u Naam aanroep.
-
20
o HERE, God van die leërskare, herstel ons; laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!