📖 Psalms 8
-
1
Vir die musiekleier; op die Gittiet. 'n Psalm van Dawid.
-
2
o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele.
-
3
Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.
-
4
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het-
-
5
wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?
-
6
U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.
-
7
U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:
-
8
skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld,
-
9
die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see.
-
10
o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!