📖 Psalms 73
-
1
'n Psalm van Asaf. Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is.
-
2
Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly.
-
3
Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien.
-
4
Want daar is geen kwellings by hulle nie, gesond en vet is hulle liggaam.
-
5
In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie.
-
6
Daarom is die trots om hulle soos 'n halssieraad, die geweld bedek hulle soos 'n gewaad.
-
7
Hulle oë puil uit van vet; die inbeeldinge van die hart loop oor.
-
8
Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte.
-
9
Hulle stel hul mond teen die hemel, en hul tong wandel op die aarde.
-
10
Daarom draai hulle mense hul hierheen, en waters in volheid word deur hulle geslurp.
-
11
En hulle sê: Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?
-
12
Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom!
-
13
Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.
-
14
Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre.
-
15
As ek gesê het: Ek wil óók so spreek- dan sou ek ontrou gewees het aan die geslag van u kinders!
-
16
Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë,
-
17
totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het.
-
18
Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val.
-
19
Hoe word hulle in 'n oomblik 'n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge!
-
20
Soos 'n droom nadat 'n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld!
-
21
Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was,
-
22
toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was 'n dier by U.
-
23
Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat.
-
24
U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.
-
25
Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.
-
26
Al beswyk my vlees en my hart- God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.
-
27
Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer.
-
28
Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.