📖 Psalms 71
-
1
By U, o HERE, skuil ek: laat my nie vir altyd beskaamd staan nie!
-
2
Red my deur u geregtigheid en bevry my; neig u oor tot my en verlos my!
-
3
Wees vir my 'n rots om in te woon, om gedurig in te gaan; U wat bevel gegee het om my te verlos, want U is my rots en my bergvesting.
-
4
My God, red my uit die hand van die goddelose, uit die mag van hom wat onreg doen, en van die geweldenaar.
-
5
Want U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af.
-
6
Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur.
-
7
Ek was vir baie soos 'n wonder; maar U is my magtige toevlug.
-
8
My mond is vol van u lof, die hele dag van u roem.
-
9
Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie.
-
10
Want my vyande praat van my, en die wat op my lewe loer, hou saam raad
-
11
en sê: God het hom verlaat; agtervolg en gryp hom, want daar is geen redder nie!
-
12
o God, wees nie ver van my af nie; my God, maak tog gou om my te help!
-
13
Laat hulle wat my as vyand behandel, beskaamd staan, verteer word; laat hulle wat my ongeluk soek, hulleself toedraai in smaad en skande.
-
14
Maar ék sal altyddeur hoop en al u lof vermeerder.
-
15
My mond sal u geregtigheid vertel, die hele dag u heil; want ek ken nie die maat daarvan nie.
-
16
Ek sal kom met die magtige dade van die Here HERE; ek sal u geregtigheid vermeld, dié van U alleen.
-
17
o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders.
-
18
En ook tot die ouderdom en die grysheid toe- o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.
-
19
Ook is u geregtigheid, o God, tot in die hoogte; U wat groot dinge gedoen het, o God, wie is soos U?
-
20
U wat my baie en bange node laat sien het, sal my weer lewend maak en my weer ophaal uit die watervloede van die aarde.
-
21
Vermeerder my grootheid, en wend U om en troos my.
-
22
So wil ek U dan ook loof met die instrument van die harp, u trou, my God! Ek wil psalmsing tot u eer op die siter, o Heilige van Israel!
-
23
My lippe sal jubel as ek psalmsing tot u eer, en my siel, wat U verlos het.
-
24
Ook sal my tong u geregtigheid die hele dag prys, want hulle het beskaamd gestaan, want hulle wat my ongeluk soek, het rooi van skaamte geword.