📖 Psalms 66
-
1
Vir die musiekleier. 'n Lied. 'n Psalm. Juig tot eer van God, o ganse aarde!
-
2
Besing die eer van sy Naam, maak heerlik sy lofsang!
-
3
Sê tot God: Hoe vreeslik is u werke! Deur die grootheid van u sterkte sal u vyande kruipende na U toe kom.
-
4
Laat die hele aarde U aanbid en psalmsing tot u eer; laat dit u Naam verhef in psalmgesang. Sela.
-
5
Kom en aanskou die dade van God, Hy wat gedug is in werking oor die mensekinders.
-
6
Hy het die see verander in droë land; hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar was ons bly in Hom.
-
7
Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela.
-
8
Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem-
-
9
wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.
-
10
Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter.
-
11
U het ons in die net gebring, 'n swaar las op ons heupe gelê.
-
12
U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.
-
13
Ek sal met brandoffers in u huis ingaan; ek sal U my geloftes betaal,
-
14
wat my lippe geuit en my mond uitgespreek het toe ek benoud was.
-
15
Brandoffers van vet diere sal ek U bring saam met offerrook van ramme; ek sal beeste saam met bokke berei. Sela.
-
16
Kom luister, en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het.
-
17
Ek het Hom aangeroep met my mond, en lofgesang was onder my tong.
-
18
As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.
-
19
Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed.
-
20
Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie!