📖 Psalms 64
-
1
Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid.
-
2
Hoor my stem, o God, in my klagte; bewaar my lewe vir die skrik van die vyand.
-
3
Steek my weg vir die raad van die kwaaddoeners, vir die gewoel van die werkers van ongeregtigheid;
-
4
wat hulle tong skerp maak soos 'n swaard, hulle pyl rig- bitter woorde! -
-
5
om in skuilplekke na die opregte te skiet; skielik skiet hulle hom en vrees nie.
-
6
'n Listige plan stel hulle vir hul vas; hulle spreek af om strikke te span; hulle sê: Wie sal dit sien?
-
7
Hulle versin ongeregtighede: Ons is gereed! 'n Fyn uitgedinkte plan! Ja, 'n man se binneste en onpeilbare hart!
-
8
Maar God tref hulle met 'n pyl, skielik is hulle wonde daar.
-
9
En hulle tong laat hulle oor hulself struikel; almal wat hulle aansien, skud die hoof.
-
10
En alle mense vrees en verkondig die werk van God en gee ag op wat Hy doen.
-
11
Die regverdige sal bly wees in die HERE en by Hom skuil, en al die opregtes van hart sal hulle beroem.