📖 Psalms 62
-
1
Vir die musiekleier; op die wysie van: "Jedútun." 'n Psalm van Dawid.
-
2
Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.
-
3
Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.
-
4
Hoe lank sal julle aanstorm op 'n man, julle almal hom verbrysel soos 'n muur wat oorhang, 'n omgestote klipmuur?
-
5
Ja, hulle hou raad om hom van sy hoogte af te stoot; hulle het behae in leuens; met hul mond seën hulle, maar met hul binneste vloek hulle. Sela.
-
6
Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!
-
7
Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie.
-
8
By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God.
-
9
Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons. Sela.
-
10
Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid.
-
11
Vertrou nie op verdrukking en bou geen ydele hoop op rowery nie; as die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie!
-
12
Een ding het God gespreek, twee is dit wat ek gehoor het: dat die sterkte aan God behoort,
-
13
en aan U, o Here, behoort die goedertierenheid; want U vergeld elkeen na sy werk.