📖 Psalms 50
-
1
'n Psalm van Asaf. Die God van die gode, die HERE, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe.
-
2
Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans.
-
3
Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.
-
4
Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel:
-
5
Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit!
-
6
En- die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel! Sela.
-
7
Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God!
-
8
Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My.
-
9
Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie;
-
10
want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende.
-
11
Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My.
-
12
As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.
-
13
Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink?
-
14
Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste;
-
15
en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.
-
16
Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond-
-
17
terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp?
-
18
As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers.
-
19
Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog.
-
20
Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy.
-
21
Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.
-
22
Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie.
-
23
Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.