📖 Psalms 46
-
1
Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. Met sopraanstemme. 'n Lied.
-
2
God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.
-
3
Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see.
-
4
Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela.
-
5
Die stroompies van 'n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste.
-
6
God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek.
-
7
Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.
-
8
Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.
-
9
Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring,
-
10
wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.
-
11
Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.
-
12
Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.