📖 Psalms 38
-
1
'n Psalm van Dawid, by die gedenkoffer.
-
2
o HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.
-
3
Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal.
-
4
Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie.
-
5
Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos 'n swaar pak het hulle vir my te swaar geword.
-
6
My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid.
-
7
Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou;
-
8
want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie.
-
9
Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart.
-
10
Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie.
-
11
My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie.
-
12
Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan;
-
13
en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog.
-
14
Maar ek is soos 'n dowe: ek hoor nie, en soos 'n stomme wat sy mond nie oopmaak nie.
-
15
Ja, ek is soos 'n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie;
-
16
want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God!
-
17
Want ek het gesê: Laat hulle net nie bly wees oor my nie! Hulle wat by die wankeling van my voet hul groot maak teen my!
-
18
Want ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my.
-
19
Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.
-
20
Maar my vyande lewe, hulle is magtig; en die wat my valslik haat, is groot in aantal.
-
21
En die wat kwaad vir goed vergeld, behandel my vyandig, omdat ek die goeie najaag.
-
22
Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!
-
23
Maak tog gou om my te help, Here, my heil!