📖 Psalms 34
-
1
'n Psalm van Dawid, toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abiméleg en dié hom weggejaag het, sodat hy heengegaan het.
-
2
Alef. Ek wil die HERE altyd loof; sy lof sal altyddeur in my mond wees.
-
3
Bet. My siel sal hom beroem in die HERE; die ootmoediges sal dit hoor en bly wees.
-
4
Gimel. Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!
-
5
Dalet. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered.
-
6
He. Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie.
-
7
Sajin. Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.
-
8
Get. Die Engel van die HERE trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.
-
9
Tet. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!
-
10
Jod. Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.
-
11
Kaf. Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die HERE soek, het geen gebrek aan enigiets nie.
-
12
Lamed. Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer.
-
13
Mem. Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien?
-
14
Noen. Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie.
-
15
Samek. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.
-
16
Ajin. Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.
-
17
Pe. Die aangesig van die HERE is teen die kwaaddoeners, om hulle gedagtenis van die aarde af uit te roei.
-
18
Sade. Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede.
-
19
Kof. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.
-
20
Resj. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.
-
21
Sjin. Hy bewaar al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie.
-
22
Tau. Die onheil maak die goddelose dood; en die wat die regverdige haat, moet daarvoor boet.
-
23
Die HERE verlos die siel van sy knegte; en almal wat by Hom skuil, hoef nie te boet nie.