📖 Psalms 147
-
1
Loof die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas!
-
2
Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is.
-
3
Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.
-
4
Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.
-
5
Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.
-
6
Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.
-
7
Sing 'n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter;
-
8
wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit,
-
9
wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep.
-
10
Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.
-
11
Die HERE het 'n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.
-
12
o Jerusalem, prys die HERE! o Sion, loof jou God!
-
13
Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën.
-
14
Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring,
-
15
wat sy bevel na die aarde stuur- sy woord loop baie vinnig.
-
16
Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as.
-
17
Hy werp sy ys heen soos stukke- wie kan bestaan voor sy koue?
-
18
Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai- die waters loop.
-
19
Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge.
-
20
So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!