📖 Psalms 145
-
1
'n Loflied van Dawid. Alef. o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd.
-
2
Bet. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.
-
3
Gimel. Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.
-
4
Dalet. Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade.
-
5
He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade.
-
6
Wau. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel.
-
7
Sajin. Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.
-
8
Get. Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
-
9
Tet. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke.
-
10
Jod. Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U.
-
11
Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag,
-
12
Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk.
-
13
Mem. U koninkryk is 'n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.
-
14
Samek. Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is.
-
15
Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd.
-
16
Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.
-
17
Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke.
-
18
Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.
-
19
Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.
-
20
Sjin. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.
-
21
Tau. My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.