📖 Psalms 132
-
1
'n Bedevaartslied. o HERE, dink aan Dawid, aan al sy moeite;
-
2
dat hy aan die HERE gesweer het, hierdie gelofte gedoen het aan die Magtige van Jakob:
-
3
Sekerlik sal ek nie ingaan in die tent van my woning of klim op die bed wat vir my gesprei is nie;
-
4
sekerlik sal ek my oë geen slaap gun, aan my ooglede geen sluimering nie,
-
5
totdat ek 'n plek vind vir die HERE, 'n woning vir die Magtige van Jakob!
-
6
Kyk, ons het daarvan gehoor in Éfrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär.
-
7
Laat ons na sy woning gaan, ons neerbuig voor die voetbank van sy voete.
-
8
Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte!
-
9
Laat u priesters bekleed wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel.
-
10
Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg.
-
11
Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon.
-
12
As jou seuns my verbond hou en my getuienisse wat Ek hulle leer, dan sal húlle seuns ook vir ewig op jou troon sit.
-
13
Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê:
-
14
Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.
-
15
Sy voedsel sal Ek ryklik seën, sy behoeftiges versadig met brood;
-
16
en sy priesters sal Ek met heil beklee, en sy gunsgenote sal vrolik jubel.
-
17
Daar sal Ek vir Dawid 'n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde 'n lamp toeberei.
-
18
Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal sy kroon skitter.