📖 Psalms 115
-
1
Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil.
-
2
Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God?
-
3
terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.
-
4
Hulle afgode is silwer en goud, 'n werk van mensehande.
-
5
Hulle het 'n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie;
-
6
ore het hulle, maar hoor nie; hulle het 'n neus, maar ruik nie;
-
7
hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie.
-
8
Die wat hulle maak, sal net soos hulle word- elkeen wat op hulle vertrou.
-
9
Israel, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild!
-
10
Huis van Aäron, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild!
-
11
Julle wat die HERE vrees, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild.
-
12
Die HERE het aan ons gedink: Hy sal seën, Hy sal die huis van Israel seën, Hy sal die huis van Aäron seën.
-
13
Hy sal diegene seën wat die HERE vrees, die kleintjies saam met die grotes.
-
14
Die HERE sal julle vermenigvuldig, julle en jul kinders.
-
15
Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
-
16
Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.
-
17
Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie;
-
18
maar óns sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid. Halleluja!