📖 Psalms 107
-
1
Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
-
2
Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het
-
3
en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.
-
4
Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; 'n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.
-
5
Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.
-
6
Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.
-
7
En Hy het hulle gelei op 'n regte pad om te gaan na 'n stad om in te woon.
-
8
Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
-
9
want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.
-
10
Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters-
-
11
omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,
-
12
het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.
-
13
Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
-
14
Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.
-
15
Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
-
16
want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
-
17
Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is-
-
18
hulle siel het 'n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.
-
19
Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
-
20
Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.
-
21
Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
-
22
en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
-
23
Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters-
-
24
húlle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte.
-
25
Want Hy het gespreek en 'n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.
-
26
Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes- hulle siel het vergaan van wee.
-
27
Hulle het getuimel en gewaggel soos 'n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.
-
28
Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.
-
29
Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.
-
30
Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.
-
31
Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.
-
32
En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.
-
33
Hy het riviere 'n woestyn gemaak en waterfonteine 'n dorsland,
-
34
vrugbare land 'n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.
-
35
Hy het die woestyn 'n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;
-
36
en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het 'n stad gestig om in te woon.
-
37
En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.
-
38
En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.
-
39
Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer-
-
40
Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in 'n woeste wêreld, sonder pad-
-
41
Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.
-
42
Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.
-
43
Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die HERE.