📖 Psalms 105
-
1
Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.
-
2
Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.
-
3
Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees.
-
4
Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
-
5
Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,
-
6
o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
-
7
Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele.
-
8
Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte-
-
9
die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
-
10
wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond,
-
11
met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.
-
12
Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
-
13
en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk,
-
14
het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
-
15
Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
-
16
En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek.
-
17
Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.
-
18
Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom,
-
19
tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het.
-
20
Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat.
-
21
Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed;
-
22
om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer.
-
23
Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam.
-
24
En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders.
-
25
Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel.
-
26
Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het.
-
27
Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam.
-
28
Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie.
-
29
Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe.
-
30
Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings.
-
31
Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied.
-
32
Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land.
-
33
En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek.
-
34
Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal,
-
35
wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond.
-
36
Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag.
-
37
Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.
-
38
Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval.
-
39
Hy het 'n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.
-
40
Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood.
-
41
Hy het 'n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke- 'n rivier!
-
42
Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.
-
43
En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.
-
44
En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem,
-
45
dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja!