📖 Psalms 104
-
1
Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed-
-
2
wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek;
-
3
wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel,
-
4
wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.
-
5
Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.
-
6
U het dit met die wêreldvloed soos met 'n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan.
-
7
Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik-
-
8
berge het opgerys, laagtes het weggesak- na die plek wat U vir hulle reggemaak het.
-
9
'n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
-
10
Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes: tussen die berge loop hulle deur.
-
11
Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors.
-
12
By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor.
-
13
Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke.
-
14
Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom,
-
15
en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk.
-
16
Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het;
-
17
waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is.
-
18
Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is 'n skuilplek vir die dasse.
-
19
Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.
-
20
U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip.
-
21
Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God.
-
22
As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke.
-
23
Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.
-
24
Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!
-
25
Daar is die see, groot en alkante toe wyd- daar is 'n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.
-
26
Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel.
-
27
Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.
-
28
U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie.
-
29
U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.
-
30
U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.
-
31
Laat die heerlikheid van die HERE vir ewig wees, laat die HERE bly wees oor sy werke,
-
32
Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook.
-
33
Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.
-
34
Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die HERE!
-
35
Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie! Loof die HERE, o my siel! Halleluja!