📖 Psalms 102
-
1
'n Gebed van 'n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE.
-
2
o HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom!
-
3
Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou!
-
4
Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos 'n vuurherd.
-
5
Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet.
-
6
Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees.
-
7
Ek is soos 'n pelikaan van die woestyn, ek het geword soos 'n uil op die puinhope.
-
8
Ek is slapeloos en het geword soos 'n eensame voël op die dak.
-
9
Die hele dag smaad my vyande my; die wat teen my raas, gebruik my naam as 'n vloek.
-
10
Want ek eet as soos brood en meng my drank met trane,
-
11
vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp.
-
12
My dae is soos 'n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek.
-
13
Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag.
-
14
U sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom.
-
15
Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin.
-
16
Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde u heerlikheid;
-
17
omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het,
-
18
Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie.
-
19
Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof;
-
20
omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het,
-
21
om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood;
-
22
sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en sy lof in Jerusalem,
-
23
as die volke almal saam vergader, ook die koninkryke om die HERE te dien.
-
24
Hy het my krag op die weg swak gemaak, my dae verkort.
-
25
My God, sê ek, neem my nie weg in die helfte van my dae nie- u jare is van geslag tot geslag!
-
26
In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.
-
27
Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos 'n kleed verslyt; U verwissel hulle soos 'n kledingstuk, en hulle verdwyn.
-
28
Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.
-
29
Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan.