📖 Klaagliedere van Jeremia 5
-
1
Dink, HERE, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad.
-
2
Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders.
-
3
Ons het wese geword, sonder 'n vader, ons moeders is soos weduwees.
-
4
Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in.
-
5
Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word.
-
6
Na Egipte het ons die hand uitgestrek, na Assur om met brood versadig te word.
-
7
Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie, en óns dra hulle ongeregtighede.
-
8
Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie.
-
9
Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn.
-
10
Ons vel gloei soos 'n oond vanweë die gloed van die honger.
-
11
Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda.
-
12
Vorste is deur hulle hand opgehang, die persoon van die grysaards nie geëer nie.
-
13
Jongmanne dra die handmeul, en seuns struikel onder die drag hout.
-
14
Die oudstes is nie meer in die poort nie, die jongmanne sonder hulle snarespel.
-
15
Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander.
-
16
Die kroon van ons hoof het geval; wee ons, dat ons gesondig het.
-
17
Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister:
-
18
ter wille van die berg Sion wat woes lê, waar die jakkalse op rondloop.
-
19
U, HERE, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag.
-
20
Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae?
-
21
Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd.
-
22
Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot?