📖 Klaagliedere van Jeremia 3
-
1
Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.
-
2
My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.
-
3
Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.
-
4
Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.
-
5
Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite.
-
6
Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.
-
7
Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak.
-
8
Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.
-
9
Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.
-
10
Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke.
-
11
Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak.
-
12
Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel.
-
13
He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.
-
14
Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.
-
15
Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink.
-
16
Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk.
-
17
En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.
-
18
Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE.
-
19
Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif.
-
20
As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.
-
21
Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:
-
22
Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;
-
23
hulle is elke môre nuut; u trou is groot.
-
24
Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.
-
25
Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.
-
26
Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.
-
27
Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra.
-
28
Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het.
-
29
Laat hy sy mond in die stof steek--miskien is daar hoop!
-
30
Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.
-
31
Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.
-
32
Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede;
-
33
want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.
-
34
Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap,
-
35
dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste,
-
36
dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak--het die HERE dit nie gesien nie?
-
37
Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?
-
38
Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?
-
39
Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.
-
40
Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer;
-
41
laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:
-
42
Ons het oortree en ons was wederstrewig--U het nie vergewe nie.
-
43
Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning.
-
44
U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie;
-
45
U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak.
-
46
Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek;
-
47
skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking.
-
48
My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.
-
49
Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou,
-
50
totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou.
-
51
My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad.
-
52
Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is;
-
53
hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi.
-
54
Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my!
-
55
Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil.
-
56
U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie.
-
57
U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie!
-
58
Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.
-
59
U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg.
-
60
U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my.
-
61
Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my,
-
62
die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my.
-
63
Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied.
-
64
Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE.
-
65
U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle.
-
66
U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit.