📖 Job 9
-
1
Maar Job het geantwoord en gesê:
-
2
Waarlik, ek weet dat dit so is; en hoe kan 'n mens regverdig wees by God?
-
3
As hy sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie.
-
4
Hy is wys van hart en sterk van krag; wie was hardnekkig teen Hom en het ongestraf gebly?
-
5
Hy wat berge versit sonder dat hulle dit merk; wat hulle omkeer in sy toorn;
-
6
wat die aarde laat sidder uit sy plek, sodat sy pilare dril;
-
7
wat bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter 'n seël wegsluit;
-
8
wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see;
-
9
wat die Beer gemaak het, die Oríon en die Sewe-ster en die Kamers van die Suide;
-
10
wat groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder getal.
-
11
Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk.
-
12
Sleep Hy weg--wie sal Hom teëhou? Wie vir Hom sê: Wat maak U?
-
13
God wend sy toorn nie af nie; onder Hom moet die helpers van Rahab kruip.
-
14
Hoeveel minder sal ék Hom kan antwoord, sal ek my woorde kan kies teenoor Hom;
-
15
Hom wat ek nie kan antwoord nie, al was ek regverdig: ek kan my regter net om genade smeek!
-
16
As ek dagvaar en Hy my antwoord, glo ek nie dat Hy na my stem sal luister nie.
-
17
Hy wat my deur 'n stormwind sou vernietig en my wonde sonder oorsaak sou vermeerder;
-
18
my nie sou toelaat om asem te skep nie, maar my sou versadig met bitterhede.
-
19
Kom dit aan op die krag van die sterkste--hier is Ek! En kom dit op reg aan--wie kan My dagvaar?
-
20
Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel; al was ek onskuldig, Hy sou my as 'n verkeerde reken.
-
21
Vroom is ek! Ek gee niks om myself nie: ek verfoei my lewe!
-
22
Dit is net eenders--daarom sê ek: Die vrome en die goddelose vernietig Hy.
-
23
As die gésel skielik doodmaak, spot Hy met die vertwyfeling van die onskuldiges.
-
24
Die aarde is aan die mag van die goddelose oorgelewer, die gesig van die regters bind Hy toe. Is dit nie Hy nie, wie dan anders?
-
25
Ja my dae was gouer as 'n hardloper; hulle het weggevlug sonder om voorspoed te sien.
-
26
Hulle het verbygegly soos skepe van biesies, soos 'n arend wat neerskiet op sy prooi.
-
27
As ek sê: Ek wil my geklaag vergeet, my droewige gesig laat vaar en vrolik word,
-
28
dan is ek al bang vir al my smarte: ek weet dat U my nie sal vryspreek nie.
-
29
Ek sal tog skuldig wees--waarom sal ek my dan tevergeefs afmat?
-
30
Al was ek my met sneeu en reinig ek my hande met loog,
-
31
dan sou U my in 'n poel indompel, sodat my klere van my 'n afsku kry.
-
32
Want Hy is nie 'n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie.
-
33
Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie.
-
34
Laat Hy sy roede van my wegneem, en laat sy verskrikking my nie beangstig nie;
-
35
dan wil ek spreek sonder dat ek vir Hom bevrees is; want só is dit met my nie gesteld nie.