📖 Job 8
-
1
Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:
-
2
Hoe lank sal jy hierdie dinge spreek en die woorde van jou mond 'n geweldige wind wees?
-
3
Sou God die reg verdraai, of die Almagtige die geregtigheid krenk?
-
4
As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hul oortreding oorgegee.
-
5
As jy na God soek en die Almagtige om genade smeek,
-
6
as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid;
-
7
dan sal jou begin gering wees, maar jou einde baie groot.
-
8
Want doen tog navraag by die vorige geslag, en gee ag op wat hulle vaders nagespeur het;
-
9
(want ons is van gister en weet niks nie, omdat ons dae 'n skaduwee op die aarde is;)
-
10
sal húlle jou nie leer, jou dit nie sê en woorde uit hul hart voortbring nie?
-
11
Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water?
-
12
Nog is dit in sy volle groei--sonder dat dit afgepluk word--dan verdor dit voor al die ander gras.
-
13
So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose;
-
14
sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is 'n spinnerak.
-
15
Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie.
-
16
Vol sap staan hy in die son, en sy ranke sprei uit oor sy tuin.
-
17
Sy wortels is gevleg oor 'n hoop klippe heen, 'n kliphuis deurboor hy.
-
18
As Hy hom vernietig uit sy plek, sal dit hom verloën en sê: Ek het jou nie gesien nie.
-
19
Kyk, dit is die vreugde van sy lewensweg, en uit die stof spruit daar ander uit!
-
20
Kyk, God verwerp die vrome nie, en Hy vat die kwaaddoeners nie aan die hand nie.
-
21
Terwyl Hy jou mond met gelag vervul en jou lippe met gejuig,
-
22
sal jou haters met skaamte beklee word, en die tent van die goddelose--weg is dit!