📖 Job 5
-
1
Roep maar--is daar iemand wat jou antwoord gee? En na wie van die heiliges sal jy gaan?
-
2
Want verbitterdheid vermoor die dwaas, en naywer maak die domme dood.
-
3
Ek self het gesien hoe 'n dwaas wortel skiet; maar skielik het ek sy woning vervloek.
-
4
Ver is sy kinders van geluk; en hulle word verbrysel in die poort sonder dat iemand red.
-
5
Wat hy geoes het, eet die hongerige op, en dié haal dit selfs uit die doringheining uit; en die ondergang hyg na hulle rykdom.
-
6
Want onheil kom nie voort uit die stof, en moeite spruit nie uit die grond nie.
-
7
Maar die mens word vir moeite gebore soos die vonke boontoe vlieg.
-
8
Maar wat my aangaan, ek sou na God vra en my saak aan die Godheid voorlê,
-
9
aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal;
-
10
wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde;
-
11
om nederiges op 'n hoogte te stel daarbo; en die wat in die rou is, verkry die hoogste geluk.
-
12
Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie;
-
13
wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.
-
14
Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag.
-
15
So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man.
-
16
So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe.
-
17
Kyk, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.
-
18
Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.
-
19
In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.
-
20
In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard.
-
21
As die tong gésel, word jy weggesteek; en jy hoef nie te vrees vir verwoesting as dit kom nie.
-
22
Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag, en vir die wilde diere van die aarde hoef jy nie te vrees nie.
-
23
Want met die klippe van die veld is jou verbond, en die wilde diere van die veld is met jou bevriend.
-
24
En jy sal uitvind dat jou tent in vrede is; en as jy op jou woonplek rondkyk, sal jy niks vermis nie.
-
25
Ook sal jy uitvind dat jou kroos talryk is en jou nakomelinge soos die plante van die aarde.
-
26
Op rype leeftyd sal jy na die graf gaan, soos 'n koringgerf ingebring word op sy tyd.
-
27
Kyk, dit het ons nagespeur, so is dit; hoor dit, en neem jy dit ter harte.