📖 Job 41
-
1
Niemand is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou?
-
2
Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.
-
3
Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie.
-
4
Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit--wie kan daarin deurdring?
-
5
Die deure van sy gesig--wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking.
-
6
'n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met 'n vaste seël.
-
7
Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie.
-
8
Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar.
-
9
Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad.
-
10
Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit.
-
11
Uit sy neusgate kom rook, soos uit 'n kokende pot met biesiesvuur daarby.
-
12
Sy asem laat kole ontvlam, en 'n vlam gaan uit sy mond.
-
13
In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis.
-
14
Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik.
-
15
Sy hart is hard soos 'n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen.
-
16
As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself.
-
17
Raak iemand hom met die swaard--dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie.
-
18
Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het.
-
19
Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels.
-
20
Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans.
-
21
Onderaan hom is spits skerwe: hy sprei 'n ware dorsslee uit op die modder.
-
22
Hy laat die diepte kook soos 'n pot; die waterplas maak by soos 'n kokende salfpot.
-
23
Agter hom verlig hy die pad: 'n mens sou die watervloed aansien vir grys hare.
-
24
Sy gelyke is daar op die aarde nie, die skepsel sonder vrees.
-
25
Hy kyk alles aan wat hoog is; hy is koning oor al die trotse roofdiere.