📖 Job 4
-
1
Toe antwoord Élifas, die Temaniet, en sê:
-
2
As 'n mens dit met 'n woord by jou waag, sal jy ontstemd wees? Maar woorde inhou--wie kan dit?
-
3
Kyk, jy het baie mense tereggewys en slap hande versterk.
-
4
Jou woorde het opgerig die wat struikel, en jy het knikkende knieë versterk.
-
5
Maar nou dat dit jóu oorkom, is jy moedverlore; nou dat dit jóu tref, is jy verslae!
-
6
Is jou Godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie?
-
7
Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg?
-
8
Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.
-
9
Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig.
-
10
Die gebrul van die leeu en die stem van die bruller--ja, die tande van die jong leeus word uitgebreek.
-
11
Die leeu kom om by gebrek aan prooi, en die kleintjies van die leeuin word verstrooi.
-
12
Verder is 'n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het 'n gefluister daarvan opgevang,
-
13
by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val.
-
14
Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe.
-
15
Toe skuif daar 'n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys.
-
16
Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie--'n verskyning voor my oë! Ek hoor die gefluister van 'n stem wat sê:
-
17
Sou 'n sterfling regverdig wees voor God? Of 'n man rein wees voor sy Maker?
-
18
Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling.
-
19
Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos 'n mot.
-
20
Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee.
-
21
Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid.