📖 Job 38
-
1
Daarna het die HERE Job uit 'n storm geantwoord en gesê:
-
2
Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis?
-
3
Gord dan soos 'n man jou heupe--dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My.
-
4
Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.
-
5
Wie het sy afmetinge bepaal? --jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan?
-
6
Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?
-
7
Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?
-
8
En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het?
-
9
Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel.
-
10
Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het;
-
11
en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word 'n grens gestel vir jou trotse golwe.
-
12
Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys,
-
13
om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word?
-
14
Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder 'n seël; en die dinge kry gestalte soos 'n kleed.
-
15
En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek.
-
16
Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed?
-
17
Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien?
-
18
Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet.
-
19
Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis--waar is tog sy plek,
-
20
sodat jy dit kan bring, elkeen na sy gebied en kan verstaan die paaie na hulle huis?
-
21
Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot!
-
22
Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien,
-
23
wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?
-
24
Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word, die oostewind hom uitsprei oor die aarde?
-
25
Wie het 'n kanaal gesplyt vir die stortvloed en 'n pad vir die onweerstraal;
-
26
om te laat reën op 'n land waar geen mens is nie, op 'n woestyn waar niemand woon nie;
-
27
om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit?
-
28
Het die reën 'n vader? Of wie verwek die doudruppels?
-
29
Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel--wie baar dit?
-
30
Die waters word hard soos 'n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar.
-
31
Kan jy die bande van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Oríon losmaak?
-
32
Kan jy die Diereriem uitbring op sy tyd? En die Beer met sy kleintjies lei?
-
33
Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel?
-
34
Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat 'n oorvloed van water jou oordek?
-
35
Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons!
-
36
Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte?
-
37
Wie kan die wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel--wie giet hulle leeg
-
38
wanneer die stof saamvloei tot 'n stuk gietwerk en die kluite aanmekaar klewe?