📖 Job 37
-
1
Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek.
-
2
Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.
-
3
Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde.
-
4
Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie.
-
5
God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.
-
6
Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns.
-
7
Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het.
-
8
Dan gaan die wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke.
-
9
Uit sy kamer kom die stormwind, en deur die wolkverstrooiers koue.
-
10
Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte.
-
11
Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk;
-
12
en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond:
-
13
óf tot 'n tugroede, óf tot nut van sy aarde, óf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind.
-
14
Luister hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God.
-
15
Begryp u hoe God hulle bevel gee en die lig van sy wolk laat flikker?
-
16
Begryp u iets van die gesweef van die wolke, van die wonders van die Volmaakte in kennis?
-
17
U, wie se klere warm word as die aarde stil is vanweë die suidewind--
-
18
kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat vas is soos 'n gegote spieël?
-
19
Onderrig ons wat ons aan Hom moet sê: ons kan niks voorbring vanweë die duisternis nie.
-
20
Moet dit Hom vertel word dat ek wil spreek? Of het iemand ooit gesê dat hy vernietig wil word?
-
21
En nou, 'n mens kan die lig nie aansien wat helder is in die hemel as die wind verbygegaan en dit skoongemaak het nie.
-
22
Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit.
-
23
Die Almagtige--ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie.
-
24
Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.