📖 Job 33
-
1
Maar hoor tog, o Job, na my rede, en luister na al my woorde.
-
2
Kyk, ek het my mond oopgemaak; my tong spreek in my verhemelte.
-
3
My woorde kom uit die opregtheid van my hart, en wat my lippe weet, spreek hulle suiwer uit.
-
4
Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend.
-
5
As u kan, antwoord my; maak klaar teen my; staan gereed!
-
6
Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp.
-
7
Kyk, vrees vir my hoef u nie te beangstig nie, en my las sal op u nie swaar wees nie.
-
8
Sekerlik, u het voor my ore gesê, ek het die geluid van die woorde gehoor:
-
9
Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie.
-
10
Kyk, Hy soek aanleidinge vir vyandskap teen my; Hy hou my vir 'n vyand van Hom.
-
11
Hy sit my voete in die blok; Hy bewaak al my paaie.
-
12
Kyk, daarin het u nie reg nie (antwoord ek u), want groter is God as 'n mens.
-
13
Waarom het u teen Hom getwis, dat Hy op al die woorde van 'n mens nie antwoord nie?
-
14
Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie.
-
15
In die droom, in 'n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed,
-
16
dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle;
-
17
om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg;
-
18
sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.
-
19
Ook word hy getugtig met smart op sy bed en aanhoudende stryd in sy gebeente,
-
20
sodat sy lewe hom laat walg van brood en sy siel van lieflingspys.
-
21
Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; en sy gebeente, wat onsigbaar was, steek uit.
-
22
Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte.
-
23
Is daar dan vir hom 'n gesant, 'n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee;
-
24
en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het 'n losprys gevind--
-
25
dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid.
-
26
Hy bid tot God, en Hy het 'n welbehae in hom, sodat hy sy aangesig sien met gejuig: so vergeld Hy dan aan die mens sy geregtigheid.
-
27
Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie.
-
28
Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig.
-
29
Kyk, dit alles doen God, twee keer, ja, drie keer met 'n mens
-
30
om sy siel terug te bring van die kuil, sodat hy bestraal word met die lig van die lewe.
-
31
Let op, o Job! Luister na my; swyg, en ék sal spreek.
-
32
As u woorde het, antwoord my; spreek, want ek wil u graag gelyk gee.
-
33
So nie, luister ú dan na my; swyg, en ek sal u wysheid leer.